Pres. Zuma het die geleentheid gemis om deur die staatsrede hoop en sekerheid te bring vir die toekoms. Die staatsrede was oninspirerend en ‘n herhaling van die ou bekende sake sonder enige nuwe inisiatiewe.

Wat die buitelandse beleggers betref stuur die president botsende boodskappe en is dan verbaas dat beleggers hulle belange van SA na Nigerië en die res van Afrika verskuif. Die een oomblik by Davos smeek hy buitelanders om in SA te kom belê. Die volgende oomblik sê hy in die staatsrede dat buitelanders geen grond in SA mag besit nie.

Die plafon wat op grondbesit geplaas word, los geen probleme op nie, maar wys slegs hoe min begrip die ANC het vir moderne ontwikkelde landbou. Hierdie voorstel gaan nie die EFF se guns wen nie, maar wel landbou-onsekerheid verhoog en voedselsekerheid verder in die gedrang bring.

Die VF Plus het in punte van orde ernstig beswaar gemaak teen die versteuring van die selsein. Dit is ‘n ernstige ingryping in vryheid van spraak. Daarom het die VF Plus suksesvol geëis dat die selsein herstel word en daar duidelikheid kom oor wie die opdrag daarvoor gegee het.

Wat die chaos rondom die EFF betref glo die VF Plus dat die polisie onder bevel van die uitvoerende gesag nie in die parlement as wetgewende gesag moet optree nie. Op hierdie tydstip is dit onduidelik
of die persone wat in gewone klere teen die EFF opgetree het, onder gesag van die speaker of die uitvoerende gesag was. Daarom het die EFF op daardie tydstip nie die saal verlaat nie. Na alles kan totale wanorde in die parlement nie toegelaat word nie. Die parlement het ‘n parlementêre beskermingsmag nodig om wanorde te voorkom. Die VF Plus het sedert verlede se probleme in die parlement daarvoor gevra.

Die ANC se korrupsie en onbevoegdheid regverdig nie die minagting van reëls en wet en orde nie.