“Die nuutste misdaadstatistiek toon dat Suid-Afrika ʼn meer gewelddadige land geword het. Geweldsmisdade wat persone direk raak soos moord, roof en motorkapings het aansienlik toegeneem. Moord het met 5% toegeneem en meer as 17 000 moorde is gepleeg. Suid-Afrika se moordsyfer is nou 32,2 per 100 000 van die bevolking terwyl die wêreldgemiddeld 7 per 100 000 is. Suid-Afrika se moordsyfer is dus amper vyf keer meer as die wêreldgemiddeld.

Die korrektheid van die statistiek word ook bevraagteken, aangesien polisiestasies nie die korrekte kategorie van misdaad rapporteer nie. ʼn Rooftog word soms as ʼn diefstal gerapporteer en baie inbrake word glad nie gerapporteer nie.

Misdaadstatistiek moet ook meer gereeld bekend gemaak word en behoort kwartaalliks gegee te word. Die huidige statistiek is verouderd en strek van 1 April 2013 – 31 Maart 2014,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.

“Roof by woonhuise, as die misdaad wat die meeste gevrees word in Suid-Afrika, het met 7,4% (19 284 gevalle) toegeneem en roof met verswarende omstandighede het met 12,7% (119 351 gevalle) toegeneem. Motorkapings het met 12,3% (11 221 gevalle) en roof by besighede met 31,3% (18 615 gevalle) toegeneem. Dit is juis by jou huis, op pad werk toe en by die werk, waar mense veilig wil voel. Die publiek het dus rede om onveilig te voel en is korrek as hulle sê hulle ervaar dat misdaad toeneem,” het Groenewald gesê.

Die Vryheidsfront Plus verwelkom wel die afname in ander misdade en veral seksuele misdade teen vroue en kinders, hoewel daar ʼn vraagteken is oor hoeveel sulke misdrywe wel aangemeld word.