Mnr. Mcebisi Jonas, adjunkminister van finansies, se erkenning dat die Gupta-familie die pos van minister van finansies hom aangebied het, het ingrypende implikasies vir president Zuma. Dit verswak sy posisie in die openbare oog en waarskynlik ook binne die ANC verder.

Me. Vytjie Mentoor het gister presies dieselfde stellings oor die Guptas se rol gemaak oor hoe hulle haar ‘n ministerspos aangebied het. Die logiese afleiding is nou dat al die skinderstories die afgelope tyd rondom minister Nene se afdanking dan ook waarskynlik korrek is.

Die VF Plus vra dat die Openbare Beskermer of ‘n regterlike kommissie die Guptas se invloed en rol in die regering ondersoek. Dit is die enigste manier hoe president Zuma op ʼn geloofwaardige wyse sal kan bewys dat die Guptas nie op hierdie wyse invloed in die regering uitgeoefen het nie.

Verder behoort president Zuma Donderdag se vraetyd in die parlement te gebruik om sy kant van die saak te stel. As hy weer soos in die verlede vrae oor hierdie saak ontduik, sal dit as ʼn bevestiging van al die bewerings gesien word.