Die Seriti-kommissie se bevinding dat geen bewyse van bedrog of omkopery in dié multimiljardrand-wapentransaksie gevind kon word nie, is ʼn klug en was bloot ʼn vermorsing van belastingbetalers se geld, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor Verdediging.

Hy sê die bevinding dat absoluut niks ongerymds was nie, dat al die vereistes nagekom is en dat al die wapentuig wat aangekoop is ten volle benut word, is eenvoudig onwaar. Tans is ongeveer twintig Gripen-vegvliegtuie op stoor en geensins in gebruik nie.

“As daar geen ongerymdhede was nie, kan met reg gevra word hoekom was Schabir Shaik, en Tony Yengeni as destydse voorsitter van die gesamentlike staande komitee op verdediging skuldig bevind en tronk toe gestuur vir ongerymdhede wat verband hou met die wapenskandaal.

“Die Seriti-kommissie het weereens getoon dat die wapenskandaal net nog ʼn verdere korrupsieskandaal sal wees wat ʼn litteken op die ANC-regering sal laat,” sê dr. Groenewald.