Die Adamayview-waterpompstasie, wat krities is tot die verskaffing van water aan verskeie woongebiede, is tans onder groot druk omdat daar slegs een pomp van die drie pompe operasioneel is. Hierdie pompstasie voorsien water aan onder andere Dawkinsville, Klerksdorp-sentraal, Oudorp, Doringkruin, Alabama en Jouberton, sê rdl. Michal Groenewald, Vryheidsfront Plus-raadslid van Matlosana.

Hy sê indien hierdie enigste werkende pomp sou breek kan dit twee tot drie weke neem om te herstel. Dit beteken dat die grootste deel van Klerksdorp twee tot drie weke sonder water sal wees, aangesien die twee ander bystandpompe stukkend is weens swak onderhoudswerk.

“Daar sal daadwerklik proaktief opgetree moet word en die munisipaliteit kan nie wag totdat daar ʼn krisis ontstaan voordat hulle optree nie,” sê Groenewald.

“Hierdie situasie is bevestig in die gekombineerde tegniese forum van Matlosana en die Midvaal Waterverskaffer waar dit duidelik gestel is dat die waterinfrastruktuur besig is om in duie te stort. Daar is gewaarsku dat 60% – 70% van alle inwoners in die KOSH-area sonder drinkwater kan wees weens die swak toestand of onvoldoende infrastruktuur van die Matlosana-munisipaliteit se watervoorsieningstelsel.

“Selfs die nuut geboude Khuma-watertenk (reservoir) lek steeds water wat ʼn risiko inhou dat die reservoir verder beskadig word. Die feit dat die watertenk boonop op ʼn dolomietiese area is, hou ook verder die risiko in vir nog ʼn sinkgat weens die watervermorsing. Dit voorkom asof die Matlosana-munisipaliteit en administrateur nie die erns van die swak instandhouding van ons water se infrastruktuur besef nie. Die twee bystandpompe moet dadelik herstel word,” het Groenewald gesê.

Die Vryheidsfront Plus sal die saak ook dringend aanmeld by die betrokke LUR en nasionale minister om ʼn moontlike krisis te probeer voorkom.