• Post category:All / Government

Gewelddadige protesoptredes soos vandag in Kaapstad en by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), is die wrange vrugte wat die ANC-regering nou pluk van die voorbeeld wat hy as bevrydingsbewing gestel het om deur massa-aksie en geweld politieke doelwitte te bereik, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder sê dit is kommerwekkend dat selfs skoolkinders by vandag se optrede betrek is, en dit moet ernstig ondersoek word tot watter mate die veldtog ʼn georkestreerde poging is om politieke gewin te behaal met die aanloop tot aanstaande jaar se plaaslike verkiesing.

“Indien dit die geval is, moet die betrokkenes besef hulle skiet hulself en die land in die voet bloot om kort termyn politieke voordeel uit die ontwrigting te put.

“Dit is welbekend dat beleggers, plaaslik en internasionaal, gereed is om honderde miljarde rande in die land te belê, maar hulle is tot dusver afgeskrik deur faktore soos beleidsonsekerheid, bedrog en korrupsie. Hierdie massa-aksies is ʼn bykomende rede waarom beleggers sal wegbly.

“Suid-Afrika se Grondwet maak dit duidelik dat een persoon se opeising van sy regte nie die regte van ʼn ander mag aantas nie. Die teendeel is duidelik besig om te gebeur, soos by die UWK waar studente vandag verhinder is om eksamen te skryf.

“Die staat kan nie toelaat dat die gevaarlike, gewelddadige, situasie buite beheer raak nie, en sal daadwerklik moet ingryp om dissipline in die land te herstel,” sê dr. Mulder.