Die aanval van die ANC op die media en op die koerant Beeld in die besonder is ongehoord en skep die indruk dat die ANC en sy leier wel ernstig is met die regulering van die mediawaghond in Suid-Afrika, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie.

Zizi Kodwa, die ANC se nasionale woordvoerder, het vandag gesê Beeld se skrywe waarin gevra word dat Zuma vervang moet word, het dit ten doel om die land se demokrasie omver te werp in stryd met die wil van die meeste Suid-Afrikaners.

Adv. Alberts sê die waarheid is dat Zuma self ‘n persepsie geskep het dat hy iets het om weg te steek deur verskeie hofsake, sy vreemde vriendekring soos die Guptas en skandale soos Nkandla.

“Zuma moet as leier van die ANC en president van Suid-Afrika pa staan vir sy dade en as hy aanhoudend die persepsie bly skep dat die misbruik van staatsfondse en die vriendskap met ongure karakters in orde is, moet hy bereid wees om kritiek te verduur.

“In die lig hiervan is billike kritiek in orde, asook ʼn oproep van die publiek en die media dat hy moet plek maak vir iemand beter,” sê adv. Alberts.