Geluide wat die ANC-regering oor pensioenfondse maak raak al hoe meer onheilspellend, en gesien teen die agtergrond van die verwoestingswerk van Transnet se twee fondse, sal die VF Plus enige wetgewing hieroor op elke moontlike manier beveg, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Die ANC se voorsitter in Gauteng, Paul Mashatile, het die afgelope week die gevaarligte hieroor aangeskakel toe hy gesê het die ANC sal met sy volgende algemene raadsvergadering in Oktober vanjaar na maniere kyk om werkers meer te ‘bemagtig’ deur aan te dui hoe en waar hul pensioengeld belê moet word.

Luidens ʼn berig Business Day vandag oor die aangeleentheid, is die doel hiervan volgens Mashatile ” ʼn poging om Suid-Afrika se ekonomie te transformeer”.

Adv. Alberts dit is nou reeds bekend dat die ANC Suid-Afrika die afgelope 21 jaar tot op die rand van ekonomiese ineenstorting ‘getransformeer’ het.

“Wat nou gebeur het die VF Plus lank reeds voorspel: Die ANC se geld raak op en nou word pensioene geteiken. Transnet se pensioenarisse sukkel juis omdat iemand anders as beleggingskundiges invloed oor hul pensioenfondse uitgeoefen het, naamlik Transnet self.

“Die ANC is niks anders nie as ‘n Marxistiese organisasie wat deur sluipwetgewing regkry wat Mugabe openlik gedoen het.

“Bietjie vir bietjie word eiendomsreg vernietig en vind herverspreiding plaas terwyl die regering eintlik die omgewing behoort te skep vir die ekonomie om te groei en ontwikkeling.

“Dit is in die belang van elke persoon in Suid-Afrika hierdie voorstel te verwerp en saam met die VF Plus te veg om dit teë te staan,” sê adv. Alberts.