Verskeie munisipaliteite in die Vrystaat vorder tans op onwettige wyse erfbelasting in. Die LUR vir Samewerkende Regering, me. Olly Mlamleli, het in antwoord op ʼn skriftelike vraag van mnr. Wouter Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaatse Wetgewer, aangedui dat Nala-, Tokologo- en Naledi Plaaslike Munisipaliteite nie hul erfbelastingtariewe vir 2015/16 gepromulgeer het nie.

Die vraag wou weet welke Vrystaatse munisipaliteite hul erfbelastingtariewe vir die 2015/2016-boekjaar gepromulgeer het soos vereis word deur Artikel 14 van die Munisipale Erfbelastingwet van 2004. In haar antwoord het die LUR verder aangedui dat drie munisipaliteite synde Ngwathe-, Dihlabeng- en Phumelela Plaaslike Munisipaliteite kon of het nie enige dokumente aan haar departement voorsien om te bevestig dat hul tariewe wel, soos wetlik vereis, gepromulgeer is nie.

Wessels meen dat dit te midde van die volskaalse finansiële krisis onaanvaarbaar is dat munisipaliteite die Wet oortree en onwettig belasting invorder.

Volgens mnr. Phillip van der Merwe, ʼn prokureur en VF Plus-raadslid, het die Grondwethof reeds beslis dat ʼn belasting slegs gehef mag word indien dit wetlik gepromulgeer is. Hy het voorheen ʼn ondersoek na die onwettige heffing van munisipale erfbelasting deur die Openbare Beskermer aangevra en is die aangeleentheid wel ondersoek. Alhoewel die OB aangedui het dat die ondersoek basies afgehandel is, is geen verslag egter tot op hede vrygestel nie.

Die Minister van Samewerkende Regering, mnr. Pravin Gordhan, het destyds ʼn beroep gedoen dat belastingbetalers nie die heffing van erfbelasting, waar tariewe nie gepromulgeer was nie, moet teenstaan nie omdat die voorskrifte van die Wet na sy mening onduidelik was betreffende die tyd vir en wyse van promulgasie. Hy het dan ook die Wet gewysig om die “onduidelikhede”‘ uit die weg te ruim en bepaal die Wet nou uitdruklik dat munisipaliteite jaarliks ʼn Resolusie moet aanvaar wat erfbelastingtariewe voorskryf en moet daardie Resolusie binne 60 dae na die neem daarvan gepromulgeer word.

Volgens Van der Merwe is daar tans geen verskoning vir munisipaliteite wat steeds nie die Wet nakom nie. Die munisipaliteite wat nie die wetlike vereiste nagekom het nie kan geen erfbelasting regmatig vorder vir die 2015/2016-finansiële jaar nie, aangesien dit onmoontlik is om aan die Wet te voldoen as die toegelate 60 dae periode eenmaal verstryk het.

Die VF Plus se raadslede is tans besig om vas te stel of Ngwathe-, Dihlabeng- en Phumelela Plaaslike Munisipaliteite wel hul tariewe gepromulgeer het en net versuim het om die inligting daaromtrent aan die departement te stuur en of die tariewe inderdaad nooit gepromulgeer was nie.