“Pres. Jacob Zuma se aanstelling van die kommissie wat ondersoek moet doen na die nasionale kommissaris van Polisie, genl. Ria Phiyega, se geskiktheid, word verwelkom. Daar kan gevra word hoekom dit die president so lank geneem het en dui op swak administrasie in sy kantoor.

“Phiyega moet egter geskors word, aangesien sy reeds bewys het dat sy nie skroom om in te meng met ondersoeke nie. Haar beïnvloeding van die provinsiale kommissarisse om hulle steun en lojaliteit aan haar in die media te verklaar is een bewys. Die feit dat sy ook bereid was om R3 miljoen aan die Valke-baas in KwaZulu-Natal, generaal-majoor Johan Booysen, te gee om die diens te verlaat is, ʼn verdere bewys.

“Die kommissie moet so gou moontlik sy werk afhandel sodat ‘n finale besluit oor genl. Phiyega geneem kan word. Die onsekerheid of sy gaan aanbly of nie, skep onsekerheid onder die Polisiebestuur en is sleg vir die moreel van die Polisiediens,” sê dr. Pieter Groenewald, hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.