Ten einde sakevertroue te herstel en ekonomiese groei te stimuleer het Suid-Afrika spesiale maatreëls nodig om ons uit die huidige ekonomiese krisis te kry. Sakelui sit met miljarde rande wat hulle in Suid-Afrika wil belê, maar tans terughou omdat die klimaat nie gunstig daarvoor is nie. Mnr. Nene, Minister van Finansies, se toespraak was egter besigheid soos altyd sonder enige verbeeldingryke voorstelle om die ekonomie te stimuleer of hierdie sakelui aan te moedig om te belê.

Die minister se poging om beleggingsekerheid te skep, is weerspreek deur die gebeure binne en buite die parlement  tydens die begrotingsrede. Die chaos stuur ‘n boodskap dat die regering beheer verloor.

Die VF Plus verwelkom die minister se aankondiging dat hy regulasies vir staatsondernemings beoog ten einde korrupsie en die mors van geld te voorkom. Die belastingbetaler kan nie meer hierdie ondernemings finansier waar hulle soos stout kinders geld mors en dan telkens terugkom vir verdere lenings en hulp nie. Privatisering bly die antwoord.

Waar die minister in Februarie ‘n 2% ekonomiese groeikoers voorspel het, het die minster toegegee dat hy nou op slegs 1,5% vir hierdie jaar en 1,7% vir volgende jaar hoop. Dit het ingrypende implikasies met projeksies vir minder belastinginkomste. Hierdie jaar het hy nog daarin geslaag om die tekort te buffer deur die 1% verhoging in persoonlike belasting wat hy in Februarie vanjaar aangekondig het en deur die rondskuif van geld. Sy probleem is volgende jaar en in 2017 waar die ekonomiese groeikoers steeds laag gaan wees en daar nie meer buffers gaan wees om die tekorte aan te vul nie. As hy dan sou probeer om die tekorte met verder lenings te delg mag die staatskuld oor 50% van die BBP gaan wat die kredietgraderingsagentskappe as ‘n  teken sal sien om Suid-Afrika verder af te gradeer.