DIE ANC-regering se verwarrende uitsprake oor grond skep onsekerheid wat besig is om groot skade aan landbou in Suid-Afrika te veroorsaak, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag met ‘n ledeverklaring in die parlement gesê aan die een kant het adjunk-president Cyril Ramaphosa verlede week kommersiële landbouers in Limpopo aangemoedig om opnuut in landbou te belê en as wildboere hul belange uit te brei.

Terselfdertyd forseer die minister van grondhervorming, Gugile Nkwinti, sekere voorstelle deur die grondberaad dat daar spesifieke plafonne geplaas moet word op die hoeveelheid grond wat landbouers mag besit, sê dr. Mulder.

“Die riglyne wat hy stel is prakties onuitvoerbaar en nog moeiliker afdwingbaar. Hierdie voorstelle word gemaak terwyl daar nog debat gevoer word en geen duidelikheid is oor die posisie van die minister se voorstel dat landbouers 50% van hul grond aan hul plaaswerkers moet afstaan nie.

“Die saak word verder vertroebel deurdat City Press berig dat die 50%-voorstel die minister se eie voorstel is en dat hy nie goedkeuring van enige van die ANC-strukture of regeringstrukture gehad het om so ʼn voorstel te maak nie. Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) het in hoofstuk ses boonop ander voorstelle vir grondhervorming op distriksvlak.

“As geluister word na die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, se uitsprake oor grond teenoor kommersiële landbouers, klink dit of hy eerder die Nasionale Ontwikkelingsplan se voorstelle verkies bo die verskillende Nkwinti-planne. Dan wag ons ook nog vir duidelikheid oor wat presies die nuwe onteieningswet behels wat deur die kabinet goedgekeur is.

“Die regering moet besef dat die aankondiging van allerlei ondeurdagte grondplanne, waaroor nie konsensus met al die rolspelers bereik is nie, onherstelbare skade aan die landbou aanrig.

“Tans neem landbouers ingrypende besluite om byvoorbeeld hulle totale boerdery na ander Afrikastate te neem, of na Australië te verhuis, of beleggings en uitbreidings te staak, of om werkersgetalle af te skaal op grond van hierdie deurmekaar beleidstandpunte. Dit veroorsaak permanente skade aan die Suid-Afrikaanse landbou en is tot groot nadeel van voedselsekerheid in Suid-Afrika,” sê dr. Mulder.