Tony Ehrenreich se uitsprake oor wit Springbokke wat doelbewus onderpresteer is misplaas en roekeloos, en moet verwerp word met die minagting wat dit verdien, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Adv. Alberts sê Ehrenreich gee sy eie rassisme weg deurdat hy dink enige wit speler sal met opset swak speel om swart spelers te benadeel om sodoende ‘transformasie en hul afrigter, Allister Coetzee, te laat misluk.

“Ehrenreich het geen bewyse hiervoor nie en as hy het daag ons hom uit om dit voor die Gelykheidshof te bring. Sulke uitlatings is uiters onverantwoordelik en skep onnodige rassewrywing.

“Verder openbaar hy self ‘n rassistiese houding teenoor die swart spelers omdat hy impliseer dat hulle nie individueel goed kan speel as die wit spelers nie goed speel nie. Selfs op ‘n dag waar ‘n span in sy geheel sukkel kan individuele spelers ‘n besondere impak maak soos Saterdag bewys is deur Ruan Combrink en Warren Whiteley.

“Swart spelers het voorheen uitgeblink waar die res van die span nie waffers vaar nie. Ehrenreich kan soos altyd nie ernstig opgeneem word nie,” sê adv. Alberts.