• Post category:All / Education

Welklinkende slagspreuke soos ‘Ontwikkel en ondersteun ‘n volhoubare Suid-Afrikaanse onderwysstelsel vir skole vir die 21 ste eeu’ toon ‘n skokkende verwydering van die werklikheid, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor basiese onderwys.

Adv. Alberts het vandag met die begrotingsdebat oor basiese onderwys gesê die realiteit van die huidige onderwysstelsel is dat kinders toegelaat word om te slaag al kan hulle nie behoorlik lees, skryf of somme maak nie. Dit terwyl deelname aan die moderne ekonomie uitdagings bied wat groot vaardigheidsvlakke vereis

“Die vereiste slaagsyfer van 35% kan waarskynlik nie laer gemaak word nie, maar miskien verras die department ons nog hieroor ook in die toekoms,” sê adv. Alberts.

Hy sê die volgende syfers som die resultaat van 20 jaar van onderwys onder die ANC goed op: 50% van mense onder 25 wat kan werk, is werkloos. Dit maak 30% van die land se totale werkloosheidsyfer uit. 60% van alle skoolverlaters het nie matriek nie. Dit duur gemiddeld 806 dae om ‘n betrekking te kry en jong mense ding mee teen 6.5 miljoen ander werkloses vir ‘n betrekking.

“Basiese onderwys is so swak dat diegene wat uit daardie stelsel kom, veral arm swart jeugdiges, beskou word as onaanstelbaar, behalwe vir ongeskoolde arbeid. Dit is ‘n nasionale skande. Dit lyk of die regering opsetlik die massas ongeskool wil hou ten einde hulle makliker te beheer.

“Die eerste stap in die regstel hiervan moet die verskerpte implementering van moedertaalonderrig wees, tweedens meer klem op wiskunde en wetenskap en derdens die daarstel van hoër slaagstandaarde.

 

“Die VF Plus steun die minister se planne om die skole-infrastruktuur te verbeter en hoop dit sal gedoen word met moedertaalonderrig in gedagte. Ons hoop ook die minister sal die provinsiale onderwysministers aanraai om nie Afrikaanse skole te teiken om Engelstalige leerders te akkommodeer nie. Die program om nuwe skole te bou, kan hierdie krisis help oplos.

“Afrikaanse skole het volgens die jongste beskikbare statistiek afgeneem tot 300.  Die maak nie sin in die lig van die regering se onderneming dat demografie ‘n belangrike rol hierin sal speel nie. Naas Xhosa en Zoeloe is Afrikaans die grootste taal in die land met Engels slegs in die sesde plek. Beteken hierdie realiteit nie dat daar selfs meer Afrikaanse skole moet wees nie?

“Tog is dit net Afrikaanse skole wat gedwing word om nie-Afrikaanssprekendes te akkommodeer. Daar moet van geen skool verwag word om te verander aan sy onderrig in moedertaal en sodoende sy karakter te verander nie. Dit is ongrondwetlik en moet stopgesit word.

“Sonder ‘n goed funksionerende onderwysstelsel het ons land geen toekoms nie. Die stelsel sal drasties moet verbeter wat standaard en moedertaalonderrig aanbetref om ‘n katastrofe in die land af te weer,” sê adv. Alberts.