Die Vryheidsfront Plus is nie verbaas dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) twee vervolgers aangewys het om met Sanral saam te werk om moontlike strafregtelike vervolging van nie-betalers van e-tol te ondersoek nie en beskou dit as deel van ‘n veldtog van afdreiging deur Sanral, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Adv. Alberts sê wat wel insiggewend is, is dat die regslui van die Vervolgingsgesag gevra is om eers ondersoek in te stel na die haalbaarheid van enige moontlike vervolging en of nie-betalers wel ‘n oortreding begaan ingevolge die Sanral-Wet

“Die VF Plus beskou dit nogtans as deel van Sanral se veldtog om ‘n skrikbewind onder padgebruikers te voer eerder as om die guns van die mense te probeer wen.

“Dit dui daarop dat Sanral self nie seker is of nie-betaling ‘n misdryf daarstel nie. Die VF Plus is ook van mening dat enige sodanige vervolging ongrondwetlik sou wees op grond van die feit dat die E-Tolwet onreëlmatig deur die parlement gevoer is.

“Die gevolg daarvan is dat enige vervolging wat wel ingestel wou word, eers opgehef sal moet word hangende ‘n uitspraak oor die grondwetlikheid van die wet.

“Die VF Plus en die Tolhek-Aksiegroep (waarvan die VF Plus deel is) is steeds van plan om die grondwetlikheid van die E-Tolwet in die hof te laat toets en die VF Plus vermaan padgebruikers om hulle nie te laat intimideer deur hierdie nuutste truuk van Sanral nie,” sê adv. Alberts.