Die Gautengse departement wat moet toesien na die gesondheid van dié provinsie se inwoners, word ironies genoeg nou daarvan beskuldig dat hy mense se dood veroorsaak deur swak dienslewering en bewerings van grootskeepse korrupsie, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se Gautengse leier en parlementslid.

In vandag (30 Julie) se Beeld word berig dat die Gautengse departement van gesondheid tussen 2008 en 2011 meer as R4,5 miljard aan konsultante bestee het. Dit is meer as tien keer soveel as wat die nasionale departement van gesondheid hieraan bestee het.

Mnr. Brian Hlongwa, nou hoofsweep van die ANC in Gauteng, was die verantwoordelike LUR aan stuur van sake toe die beweerde ongerymdhede plaasgevind het.

Van die bewerings wat nou glo op hoë vlak ondersoek word, is die toekenning van kontrakte aan konsultante asook bewerings dat ’n deposito van R3,3 miljoen op ’n huis van Hlongwa betaal is.

Adv. Alberts sê die VF Plus is geskok oor die beweerde vergrype en stem saam dat dit mense leed kon aandoen en waarskynlik sterftes kon veroorsaak aangesien dit bekend is dat die Gautengse gesondheidsdiens se dienslewering erg geraak is weens ‘n geldtekort.

“Die VF Plus stel voor dat diegene wat skade gely het of geliefdes verloor het, ʼn klasaksie-eis instel teen die Gautengse regering en teen Hlongwa persoonlik. Die VF Plus dring ook daarop aan dat Hlongwa
adelik uit sy pos verwyder word.

“Die ANC is egter ook aandadig hieraan aangesien die haglike stand van die provinsie se gesondheidsdienste alombekend was en die regering dit sienderoë toegelaat het,” sê adv. Alberts.