• Post category:All / Government

Daar is nog geen teken van ʼn skemering oor regstellende aksie (RA) nie, nieteenstaande die feit dat demografiese teikens in die staatsdiens lank reeds bereik is en wit en bruin minderhede selfs onderverteenwoordig word.

Dit blyk uit ʼn antwoord van die minister van arbeid, Mildred Oliphant, op ʼn skriftelike parlementêre vraag van adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.

Adv. Alberts se vraag lui onder meer of daar weggedoen gaan word met RA aangesien teikens in die staatsdiens reeds bereik en oorskry is, en indien nie, hoe dit grondwetlik geregverdig kan word om daarmee te volhard. Hierop het Oliphant geantwoord:

“Nee, ek sal dit nie oorweeg om weg te doen met RA in die staatsdiens nie. RA is ʼn nasionale aangeleentheid. Indien die staatsdiens die teikens bereik het, behoort dit as aansporing te dien vir ander sektore en dit is dus geen rede om met die beleid weg te doen nie.

“Die aanhef tot die Grondwet dui op die grondwetlike gebiedendheid vir RA”.

Adv. Alberts sê die antwoord is baie kras en die implikasie is dat RA in plek sal wees solank die ANC regeer. Daar word nie eens ag geslaan op die feit dat daar reeds swart oorverteenwoordiging in die staatsdiens is nie.

“Hierdie staan in kontras met die artikel 1(4) van die Internasionale Verdrag oor die Uitwissing van Alle Vorme van Rassediskriminasie (International Convention on the Elimination of All Forms of Racial Discrimination (VUVR/CERD)) wat bepaal dat sodra ʼn regstellende doelwit bereik is, moet die toepassing van RA beëindig word.

“Artikel 195(1)(i) van die Grondwet stel dit duidelik dat die staatsdiens breedweg die Suid-Afrikaanse bevolkingsamestelling moet reflekteer. Hierdie doelwit is reeds oorskry aangesien daar ʼn tekort aan wit en bruin werkers in die staatsdiens is.

“Dit is onhoudbaar dat die situasie voortduur. Die VF Plus gaan die situasie in ʼn skrywe aan die VUVR-komitee rig en om ʼn regsmening vra. Indien die VUVR-komitee die VF Plus se siening deel, sal die party vra vir formele optrede teen die ANC-regering om die diskriminasie te staak,” sê adv. Alberts.

In Oktober verlede jaar (ook aan die hand van ʼn geskrewe vraag) het dit reeds geblyk dat die teikens bereik is en dat wit en bruin toe reeds met ʼn halwe ʼn persentasiepunt onderverteenwoordig was. Waar wittes (toe) 9,2% van die land se bevolking was, was hul verteenwoordiging in die staatsdiens net oor 8,8%.