Die VF Plus het vandag ‘n ledeverklaring in die Vrystaatse Wetgewer gelewer oor die wanbetaling van subsidies aan nie-regeringsorganisasies, soos kinderhuise, dagsorgsentrums en tehuise vir bejaardes en gestremdes in die Vrystaat.

Die LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die Vrystaat, me. Ntombela, het in antwoord op die ledeverklaring die laat betalings betreur en erken dat dit weens onbevoegdheid is. Sy het die versekering gegee dat sy dit sal aanspreek en die VF Plus bedank dat dit onder haar aandag gebring is.

Meeste van hierdie organisasies het steeds nie hul subsidies vir die nuwe finansiƫle jaar ontvang nie. Hierdie organisasies is afhanklik van hierdie fondse om hul belangrike pligte uit te voer.

Verlede jaar is hierdie subsidies ook baie laat betaal. Die rede hiervoor wat later aangehoor is, was dat die hoof van die departement nie die memoranda van verstandhouding onderteken het nie.

Dit blyk dat die rede vir wanbetaling dus onbevoegdheid is.

Kinderhuise sorg vir hawelose kinders wat deur die hof in die sorg van die staat geplaas is. Dit is dus onaanvaarbaar dat hierdie kinderhuise op die drempel van sluiting is weens die onbevoegdheid van die departement van maatskaplike ontwikkeling.