• Post category:All / Government

Die onkunde in die presidensie oor president Jacob Zuma se parlementêre verpligtinge soos verwoord deur die president se woordvoerder, Mac Maharaj, is werklik ontstellend, sê dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep en parlementslid.

Die president is ingevolge die Grondwet ʼn lid van die kabinet en ook hoof van die uitvoerende gesag. Die Grondwet vereis dat die kabinet insluitende die president gereeld aan die parlement verslag moet doen oor hul werksaamhede.

Dit is derhalwe ook die grondwetlike taak van die parlement om oorsig
te doen oor die president en sy kabinet se werksaamhede.

Ten einde dit prakties uit te voer bepaal reël 111(1) van die Reëls van die Nasionale Vergadering dat die president ten minste een keer per kwartaal in die parlement moet wees om vrae te beantwoord wat deur lede van die parlement aan hom gestel word. Dit is nie ʼn opsie of diskresie nie, maar ʼn grondwetlike verpligting.

Daar is vier kwartale en pres. Zuma moet derhalwe vier keer per jaar in die parlement wees om vrae te beantwoord soos aan hom gestel deur lede van die parlement.

Tot dusver in 2014 het hy slegs een keer verskyn en daar is geen aanduiding dat hy voor die einde van die jaar na die parlement gaan kom om sy verpligtinge na te kom nie.

Uitlatings hieroor deur beide sy woordvoerder, Maharaj, asook Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, getuig van skokkende onkunde. Dit is tragies dat die president geadviseer word deur sy binnekring wat onkundig is oor die bepalings van die Grondwet, sowel as die reëls van die parlement.