Die VF Plus het die waarnemende Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Panyaza Lesufi, dringend versoek om in te gryp na die onwettige sluiting van ‘n skuiling vir haweloses en sopkombuis in Krugersdorp wat daagliks meer as 1 000 honger mense voed.

Die Wes-Randse distriksmunisipaliteit het so ver gegaan om die polisie opdrag te gee om polisiebeamptes na die sopkombuis te stuur om toe te sien dat hulle nie voedsel versprei nie.

Die onmenslike en skandalige optrede van die regering is ongrondwetlik omdat die instansie, Cradle of Hope, magtiging by die departement verkry het om voedsel aan behoeftiges te verskaf.

Cradle of Hope in Krugersdorp bestaan reeds meer as ses jaar lank en huisves hawelose vroue en mans. Lank voor die inperking het die organisasie sy welwillendheid uitgebrei deur toebroodjies aan meer as 600 honger mense per dag uit te deel. Die syfer het na die inperking na meer as 1 000 aangegroei.

Vrywilligers help daagliks om 500 brode en 50kg grondboontjiebotter te verwerk en uit te deel aan mense wat reeds van tienuur in die oggend in lang rye voor die sentrum staan. Baie is kleuters en hul enigste maaltyd vir die dag.

Die VF Plus het reeds ‘n week gelede verskeie regs- en praktiese probleme met die riglyne rakende die sentralisering van voedselhulp met die Gautengse premier, David Makhura, opgeneem. Dit is belangrik dat die regering moet besef die regulasies en handelinge is in terme van die Rampbestuurswet steeds onderhewig aan die Grondwet.

Die riglyne is waarskynlik ongrondwetlik aangesien dit bots met Artikel 11 van die Grondwet wat die reg op lewe waarborg – ‘n nie-aantasbare reg – en Artikel 27(1)(b) wat die toegang tot genoegsame kos en water waarborg.

Sou Gauteng se ANC-regering dus sodanig optree dat iemand se lewe in gevaar gestel word, sal dit ongrondwetlik wees. ‘n Saak kan uitgemaak word dat die dood weens honger ‘n groter waarskynlikheid is as een vanweë COVID-19.

Gegewe die Gauteng-regering se probleme om reeds dringend kospakkies by behoeftiges uit te kry, sal die sentralisering van voedsel-noodleniging dié probleme net vererger en daartoe lei dat mense sterf weens siektes wat met wanvoeding verband hou.

Private instansies en gemeenskapsorganisasies wat die behoeftes van ‘n bepaalde gemeenskap verstaan en gewoonlik vinniger en meer effektief reageer, kan arbitrêr of deur administratiewe rompslomp deur die departement van maatskaplike ontwikkeling verhinder word om in te tree waar werklike nood bestaan.

Die VF Plus kan nie toesien dat mense wat hul werk weens die inperking verloor het, van honger omkom nie. Die ongevoeligheid van die regering ruk handuit terwyl sy voedselprojek skandelik misluk en mense nie gou genoeg bereik nie.

Die party sal voortgaan om druk op Lesufi te plaas om sopkombuise, wat magtiging van die departement van maatskaplike ontwikkeling het en aan al die vereistes voldoen om kos uit te deel, toe te laat om mense te help.