Hoewel die misdaadstatistiek wat vandag bekend gestel is aandui dat kontakmisdade met slegs 0,9% toegeneem het, moet mense hulle nie daardeur laat mislei nie, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor polisie.

Hy sê die groep kontakmisdade behels 17 misdrywe, maar as spesifiek gekyk word na ernstige geweldsmisdade soos moord, poging tot moord, verskeie vorms van roof en aanranding, was daar ʼn toename.

Moord het toegeneem met 9,6% die afgelope twee jaar en met 4,6% die afgelope jaar. Dit beteken 17 805 mense is die afgelope jaar vermoor, wat neerkom op ʼn moord elke 30 minute.

Volgens dr. Groenewald is die grootste kommer roof met verswarende omstandighede wat met 8,5% toegeneem het, en met 21,3% die afgelope twee jaar.

Roof by woonhuise het met 5,2% toegeneem. Dit beteken dat waar mense veilig behoort te wees, hulle blootgestel word aan geweldsmisdade. Dit is ook een van die misdrywe wat die meeste gevrees word deur Suid-Afrikaners.

Die misdryf met die grootste toename was vragmotorkapings wat met 29,1% toegeneem het en gewone voertuigkapings wat met 14,2% toegeneem het. Albei gevalle hou ook ʼn bedreiging vir menselewens in.

Hierdie toename in geweldsmisdade toon dat Suid-Afrika toenemend ʼn gewelddadige land word, sê dr. Groenewald.

Hy sê die geloofwaardigheid van die statistiek is onder verdenking en die feit dat Statistiek Suid-Afrika deel was van die proses, maak dit nie meer geloofwaardig nie.

“Die probleem lê op stasievlak waar misdaad aangemeld word. Verskeie persone kla dat nadat ʼn saak aangemeld is, hulle ʼn week later geen rekord daarvan kry by die polisiekantoor nie.

“Dit is ook ʼn vraag of aangemelde misdrywe korrek geklassifiseer word. Ek het persoonlik ʼn inbraak by die parlementêre woonbuurt Akasiapark gehad wat later geklassifiseer is as ‘beskadiging van staatseiendom’.

Die feit dat gemeenskappe al hoe meer reg in eie hande neem en verdagtes met buitebande verbrand en vermoor, is ʼn bewys dat misdaad buite beheer raak en dat die publiek nie vertroue in die polisie het om misdaad effektief te beveg nie.

“Die VF Plus vra dat misdaadstatistiek kwartaalliks bekend gestel word sodat daar betyds voorkomende stappe geneem kan word,” sê dr. Groenewald.