Met Moedersdag om die draai, is dit ironies dat moorde op vroue die hoogte in skiet. Wat veral kommerwekkend is, is dat heelwat van hierdie geweldsmisdade aan die hand van ʼn bekende of geliefde is, sê Amanda de Lange, nasionale voorsitter van die VF Plus se vrouekomitee.

De Lange sê president Jacob Zuma het twee jaar gelede met sy staatsrede groot klem gelê op vroueregte en het onderneem om dit wetlik te bevestig. Van dié belofte het niks gekom nie en die huidige moordstatistiek wys net die teendeel.

Volgens ʼn studie van KPMG in 2014, is gesinsgeweld en geweld teenoor vroue in Suid-Afrika van die hoogste ter wêreld. Hierdie misdaad kos die Suid-Afrikaanse ekonomie tussen R28,4 miljard en R42,4 miljard per jaar, lui die studie.

Studies deur Sonke Gender Justice toon dat 57% vroue jaarliks sterf aan die hand van die man met wie hulle ʼn huis deel. Een uit elke 20 vroue het ʼn beskermingsbevel in hul besit gehad toe hulle vermoor is. Verdere navorsing toon dat drie vroue daagliks vermoor word terwyl heelwat meer verkrag word. Daarbenewens faal die regstelsel vroue ook gereeld.

“Vroue speel ʼn groot rol in die huis, gemeenskap en werksplek en lewer selfs ʼn groter bydrae betreffende stabiliteit in gemeenskappe. Hierdie bydrae mag nie onderskat word nie en die president is dit aan die vroue van die land verskuldig om die sorg dat hulle veilig is. Die tyd het aangebreek dat die president rekenskap gee oor die hoë moordsyfers op vroue.

“Die VF Plus wil in hierdie krisistyd hulde bring aan vroue dwarsoor Suid-Afrika vir die waardevolle rol wat hulle so stilweg speel.

“Sonder enige ophef vervul hulle in hierdie moderne era van die werkende vrou steeds die rol van een wat gesinne, kollegas en gemeenskappe dien, voed, beskerm en met liefde omvou. Mag hierdie Moedersdag, 10 Mei 2015, ʼn besondere dag wees vir alle vroue in Suid-Afrika.