Wanneer ontevrede studente weer na die parlement opruk, moet die polisie hulle nie keer nie, maar eerder binnenooi sodat hulle die argitekte van die land se vele probleme, waarvan studiegeld net een is, persoonlik kan konfronteer, het, dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus, vandag gesê in die parlementêre debat oor transformasie in hoër onderwys.

Hier volg dr. Mulder se volledige verklaring.

In Engels is daar ʼn gesegde wat lui: “The chickens are coming home to roost.” In Afrikaans sê ons: “Wat jy saai sal jy maai.”

In 2007, voor die 2009-verkiesing, en weer by die Mangaung-konferensie in 2012 (voor die 2014-verkiesing) het die ANC gratis hoër onderwys belowe. Tot vandag het daar niks van gekom nie. Nou word gemaai wat gesaai is. “The chickens are coming home to roost.”

Pleks van meer hulp aan universiteite het die ANC eerder subsidies verminder terwyl groot bedrae geld aan oneffektiewe semi-staatsinstellings soos Eskom en SAL betaal word om hulle uit hul finansiële moeilikheid te red.

Hoe kom die ANC daarmee weg?

Hy kry dit reg deur die kiesers te breinspoel om almal behalwe die ANC die skuld te gee vir sy probleme. Dit is òf die wit rykes, òf neo-kolonialisme òf apartheid. Nooit die ANC nie.

Die agbare minister van hoër onderwys is baie goed daarmee in sy hoedanigheid as algemene sekretaris van die SAKP. Gewoonlik pak hy die skuld vir enige probleem op wat hy noem ‘teen-revolusionêre minderhede’

Ek het egter simpatie met die minister. Agbare dr. Nzimande agiteer nou al die afgelope 20 jaar vir ‘n populêre revolusie. Toe dit uiteindelik gebeur, was hy aan die verkeerde kant, die ontvangkant daarvan toe hy vergeefs ‘n toespraak deur die traliewerk by die parlement probeer maak het en ‘amandla’ uitgeroep het.

Wie is die regte outeurs van hierdie gemors?

Ek moet die studente gelukwens dat hulle hierdie keer nie gebreinspoel of geflous is nie. Hulle het onmiddellik die regte outeurs van hierdie gemors, die ANC-regering, in hul visier gekry. So het hulle opgeruk na Luthuli-huis, die parlement en die Uniegebou.

Die ANC se aanvanklike siniese geveinsde solidariteit met die studente, en die ANC se oproep dat sy lede aan die protes-aksie moet deelneem, het die studente nie geflous nie.

By Luthuli-huis het Jessie Duarte en Gwede Mantashe nog die skuld op die vise-rektore probeer pak. Dit het ook nie gewerk nie en die strydkreet het vinnig verskuif vanaf #FeesMustFall na #ANCMustFall.

Die feit dat mnr. Mantashe hierdie studente “pseudo-revolusionêre” genoem het, het nie veel gehelp nie.

In hierdie protes-aksies was “klasgeld” die slagkreet, maar almal weet dit gaan eintlik oor ʼn breë woede teen ʼn regering wat leë beloftes maak en kiesers in die steek laat.

Die VF Plus veroordeel studente- en polisiegeweld. By die parlement het enkele polisielede onnodige geweld gebruik hoofsaaklik omdat hulle te min was. Ek het egter self gesien hoe polisielede geskop en getart is.

Toe die studente by die parlement deur die hekke breek, het ek die ANC-lede aan daardie kant van die raad dopgehou. Hulle het met groot en benoude oë gesit en geluister hoe die studente se geskreeu steeds nader kom tot by die parlement se deure. Minder as tien polisielede het voorkom dat die studente die parlement binnekom.

Wat doen die ANC en die DA-provinsiale regering na die tyd? Geen dank aan die polisie nie. Die ANC se Moloto Mothapo het in ‘n verklaring gesê: “We completely and out rightly reject and condemn the heavy handedness of the police – the students presented no threat.”

Ek wil nou vir die polisielede hier by die parlement sê, en ek hoop hulle kyk op die TV-skerms. Volgende keer, dan staan julle opsy, julle help die studente die parlement binne. Ek sal binne vir die studente wys watter ministers en parlementslede is verantwoordelik vir die huidige gemors.

Lede van die VF Plus, van die EFF, van die ANC-jeugliga en ander het saam aan die protes deelgeneem. Ons is dankbaar dat klasgelde nie verhoog gaan word nie – maar die feit dat die ANC so lank gesloer het om die probleem aan te spreek, skep nou ʼn finansieel onhanteerbare probleem.