‘n Holistiese vervoerplan is uiteindelik nodig om aan Suid-Afrika se
behoeftes te voldoen aangesien openbare vervoer steeds baie gebrekkig is en
sonder behoorlike planne deurgevoer word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus
se parlementêre woordvoerder oor vervoer.

Volgens adv. Alberts is ‘n goeie voorbeeld van die skewe beplanning die
minister se geskrewe antwoord aan homself oor die sinvolheid van die
e-tolstelsel waar die minister aangedui het dat e-tol motoriste sal dwing om
gebruik te maak van openbare vervoer.

“In reaksie daarop moet ‘n mens vra: Watter openbare vervoer? Openbare
vervoer vir die arm gemeenskappe is onveilig en amper nie-bestaande vir die
middelklas en diegene in die platteland. Daar is ook ‘n nasionale
vervoerreguleerder nodig om alle fooie te reguleer tot voordeel van die
gebruiker.

“Deel van die uitdagings van die departement is die finansiering van
vervoerprojekte, waarvan sommige die regering ernstige skade kan aandoen.
Van hierdie probleme het ontstaan vanweë ‘n gebrek aan sinvolle beplanning
en openbare konsultasie.

“E-tol is ‘n voorbeeld hiervan. Die peperduur stelsel is reeds voltooi, maar
het geen legitimiteit in die oë van die publiek nie. Optrede van Sanral in
die verband maak padgebruikers net meer vyandiggesind en dit kan vererger
indien mense wel vervolg word.

“Daarbenewens moet gevra word waarom Sanral nog nie opgetree het teen
konstruksiemaatskappye wat by samespanning betrokke was om die kostes van
die stelsel se bouwerk op te jaag nie. Sanral kan ‘n aansienlike deel van sy
uitgawes op die wyse terugkry, maar verkies om eerder op die publiek jag te
maak.

“Die tweede probleem het ontstaan weens die wanbestuur van Transnet se
pensioenfonds wat nou gelei het tot ‘n eis van by die R85 miljard teen
Transnet en die regering. Sou die eis slaag, kan Transnet geen van sy
beplande uitbreidingsprogramme voltooi nie. Daardie hofsaak begin aanstaande
Maandag.

“Staatsinstellings is boonop nie eens in staat om sy eie wette behoorlik toe
te pas nie en die VF Plus wil die minister vra om eers die basiese reg te
kry voordat daar ambisieuse projekte aangepak word, soos die e-tol en AARTO,
wat tot dusver net kaders en korrupte amptenare ryk gemaak het,” sê adv.
Alberts.