Toespraak: Begrotingsposdebat vir die Department van Mineralebronne: 15
Julie 2014

Dit is kommerwekkend dat die regering reeds sy lippe aflek vir die
ontginning van skaliegas sonder dat die gevestigde minerale-industrie se
probleme behoorlik behandel is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se
parlementêre woordvoerder oor minerale.

Adv. Alberts sê die VF Plus is bekommerd oor die wyse waarop die regering
omgaan met die minerale bates van die land. Suid-Afrika het ‘n geweldige
minerale rykdom, maar die regering sukkel om dit tot die land se voordeel
aan te wend.

“Die probleem in die myn-industrie is kompleks en bestaan al lank. Dit kan
egter opgelos word en goeie leierskap is nodig om ‘n herhaling van die
onlangse uitgerekte onderhandelinge te voorkom.

“Mynbase moet beter na hul werkers omsien en moet belê in gemeenskappe om
die myne. Maatskappye soos Kumba het ‘n goeie voorbeeld in hierdie verband
gestel.

“Aan die ander kant moet vakbonde ook besef hulle leef in ‘n veranderende
wêreld. Waar die stryd voorheen tussen werknemer en eienaar was en ook baie
op rassegronde, sal dit voortaan toenemend tussen mens en robot wees.

“Al leef ons nog nie werklik in hierdie wetenskapsfiksie-toekoms nie,
ontwikkel meganisasie vining met die tegnologie. Masjiene, robots en ander
vorme van meganisasie sal menslike werkers toenemend vervang soos
arbeidskoste styg.

“‘n Gebalanseerde benadering is daarom nodig in ‘n omgewing wat
arbeidsintensief is. Vakbonde wat te veel eis, kan bedroë daarvan afkom as
myne meganiseer of uit die land onttrek.

“Ons wil die minister wel gelukwens dat hy die Wysigingswetsontwerp op die
Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumbronne eers wil terughou vir
hernieude evaluasie. Ons hoop net die president gaan dit toelaat.

“Die gratis 20% aandeelhouding wat die staat sou kry in alle eksplorasie- en
produksieregte sal verhinder dat enige beleggings in die industrie
plaasvind.

“Die feit dat die staat ‘n verdere 80% kan aankoop sou kon veroorsaak dat
die staat in effek maatskappye kan nasionaliseer onder die vaandel van die
bestuur van strategiese minerale. Dit is dus niks anders nie as
nasionalisering onder ‘n ander naam.

“Daar moet ook ‘n wyse gevind word om mense te vergoed wat van hul
mineraleregte ontneem word. ‘n Moontlikheid is om ’n vorige eienaar en die
aangrensende gemeenskap aandeelhouding te gee in die nuwe maatskappye wat
die minerale ontgin. Dit sal tot almal se voordeel wees,” sê adv. Alberts.