Die vlakke van geweldsmisdaad in Suid-Afrika grens aan anargie -soos die jongste voorval waarin vier mense van Randfontein grusaam vermoor is van getuig – en die VF Plus gaan die Britse regering op hoogste vlak deur sy hoë kommissaris in Suid-Afrika versoek om met Suid-Afrika se regering hieroor in gesprek te tree, sê adv. Anton Alberts, VF Plus-LP en leier in Gauteng.

Adv, Alberts sê die moord op Kennith (Kenny) McCormack (42), sy verloofde, Marietjie Meyer (45), haar dogter, Kayla (9) en McCormack se pa, Monty (73), ‘n Brit wat by die gesin gekuier het, is absoluut skokkend en daar kan geen regverdiging hoegenaamd daarvoor aangebied word nie.

Volgens adv. Alberts dui die groot hoeveelheid moorde, verkragtings en aanvalle tot dusver vanjaar daarop dat die regering bykans magteloos staan voor gewelddadige elemente in die land.

“In twee jaar tot einde 2015 het moord met 9,6% gestyg en daar was die laaste paar jaar meer as 17 000 moorde jaarliks in Suid-Afrika. In 2014 was daar volgens die regering se eie statistiek 17 805 moorde. Dit is ʼn moord elke 30 minute.

“Daar kan geen twyfel meer wees nie dat dit aan anargie grens. Die statistiek wys duidelik Suid-Afrika is ʼn oorlogsone, ʼn oorlog teen misdadigers en moordenaars waar mense toenemend onveilig in hul eie huise voel.

“Aangesien ʼn Britse burger een van die vermoordes van Randfontein is, het die VF Plus die voorval gebruik om ʼn brief aan die Britse hoë kommissaris te skryf oor geweld en misdaad in die land.

“Die kommissaris word in die skrywe versoek om die saak op te neem met die Britse premier en minister van justisie en om dit met Suid-Afrika se regering te bespreek.

“Indien nodig, sal die VF Plus na Brittanje reis om hierdie gesprek daar verder te voer. Die mense van Suid-Afrika kan nie langer onder sulke abnormale omstandighede ʼn normale bestaan voer nie,” sê adv. Alberts.