• Post category:All / Government

Daar is al hoe minder werk vir wit en bruin in die staatsdiens, en die twee minderheidsgroepe is nou onderverteenwoordig volgens regstellende aksie (RA)–teikens om die demografie van die land te weerspieël, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder vir staatsdiens en administrasie.

In antwoord op geskrewe parlementêre vrae van adv. Alberts oor onder meer die aantal werknemers van elke bevolkingsgroep in die staatsdiens, blyk dit dat die teiken feitlik reeds vir swartes bereik is. Indiërs word die meeste bevoordeel en is met 0.75% oorverteenwoordig.

Wit en bruin is met bykans ʼn halwe ʼn persentasiepunt onderverteenwoordig. Waar wittes 9,2% van die land se bevolking uitmaak, is hul verteenwoordiging in die staatsdiens net oor 8,8%.

Uit die minister se antwoord blyk dit dat daar tans 1,328,687 werkers in die staatsdiens is. Hiervan is daar onsekerheid oor die ras of geslag van 1,637 persone.

Wat die res aanbetref is daar 1,055,274 (79,4%) swart, 43,120 (3,2%) Indiërs, 111,236 (8,3%) bruin en 117,420 (8,8%) wit.

Adv. Alberts sê dit blyk duidelik uit die statistiek hoe daar toenemend teen wittes in die werkplek gediskrimineer word. Hy sê die hele proses is die laaste twintig jaar aggressief gedryf en Suid-Afrika het ʼn enorme prys daarvoor betaal deur met dienslewering in te boet.

“Die staat moet besef dat die grondwetlike teikens nou bereik is. Die status quo moet van hier af gehandhaaf word. Indien daar voortgegaan sou word om regstellende aksie te dryf soos tot nou toe gedoen is, sal wittes binne enkele jare totaal uit die staatsdiens gedryf word.

“Die regering moet sy beleid oor aanstellings vir eers in trurat implementeer ten einde die onreg teenoor wit en bruin reg te stel. Die VF Plus gaan die ANC-regering hieroor konfronteer en eis dat meer mense uit minderheidsgroepe aangestel word,” sê adv. Alberts.