Die feit dat studentegeweld onmiddellik weer opgevlam het na pres. Jacob Zuma se aankondiging dat daar aanstaande jaar geen verhoging in studiegeld gaan wees nie, stuur die boodskap aan die breë Suid-Afrikaanse samelewing uit dat geskille voortaan suksesvol met geweld besleg kan word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie en hoër onderwys.

Geweld het na die aankondiging ook gedreig om na die parlement oor te spoel en beveiligingspersoneel  is binne minute na die aankondiging op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas.

Om by die wortel van die onrus oor studiegeld uit te kom, hoef daar nie dieper gedelf te word nie as mislukte ANC-beleid wat in tandem met korrupsie en ongekende geldvermorsing die saad daarvoor gesaai het nie, sê adv. Alberts.

Hy sê teen die agtergrond van groeiende werkloosheid en ʼn kwynende ekonomie het studiekoste in die Suid-Afrikaanse konteks toenemend onbekostigbaar geraak vir die meeste studente. Die skuld daarvoor kan net voor die deur van die  ANC gelê word wat nie genoeg geld toegeken het aan tersiêre instellings nie terwyl miljarde rande weens korrupsie en onbenullige projekte vermors is.

Strukture vir studentehulp was in plek met die ANC se bewindsoorname, soos die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS), maar soos wat met Eskom gebeur het, het dit weens verskeie faktore soos reeds genoem,  mettertyd disfunksioneel geraak.

Midde-in die probleme het die ANC nie gehuiwer om minderhede verder te benadeel nie. Enkele maande gelede, toe dit vir die regering duidelik moes raak dat geld vir onderwys opdroog, is besluit om die Zunza Lushaka-beursskema vir onderwysers voortaan net toe te ken aan studente wat reeds ʼn swart taal magtig is. Dit is niks anders nie as openlike rassisme, sê adv. Alberts.

“Die kern van die probleem is die ANC se rigiede ekonomiese beleid waar oral ingemeng word in die vrye mark deur Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB). Die regering se anti-sake- en pro-unie-houding, die afjak van die land se tradisionele handelsvennote soos Amerika en Europese Unie (EN) en die ineenstorting van ESKOM vanweë ANC kaderontplooiing, het bygedra om die ekonomie te rem.

“Die feit dat Suid-Afrika se ekonomie ten spyte hiervan nog funksioneer, is ʼn getuigskrif vir ʼn aktiewe burgerlike samelewing wat meer as hul deel bydra om die land van ondergang te red.

“Die voor die hand liggende oplossing is ekonomiese groei. Al die faktore wat die ekonomie rem moet uitgewis word. Dit sal die belastingbasis verbreed en die regering in staat stel om meer te bestee aan onderrig en steun aan studente.

“So ʼn situasie sal studiekoste nie net vir die studente en hul ouers meer bekostigbaar maak nie, maar dit sal ook daartoe bydra dat studente werk kry na hul studie, wat tans nie die geval is nie. Sonder ekonomiese groei gaan die studenteprotes eskaleer tot ʼn veel breër opstand wat Suid-Afrika in chaos kan laat verval.

“Die regering sal nou dringend aan die publiek moet wys dat hy hom opreg verbind tot ekonomiese groei deur die faktore wat remming veroorsaak daadwerklik aan te spreek terwyl wet en orde gehandhaaf word.

“Intussen veroordeel die VF Plus die geweldpleging asook die onwettige optrede van studente onder die vaandel van die ANC en die DA wat nou aktief deelneem aan protesaksies by Fort Hare se Alice-kampus. Albei hierdie partye moet hul lede onder beheer bring of dissiplinêr teen hulle optree.

“Dit is werklik tragies dat die regering midde-in ʼn krisis weer eens net groter probleme skep eerder as om dit op te los. Wat vandag gebeur het, het  ʼn hele generasie studente geleer dat geweld gebruik kan word om probleme op te los. Dit bring ons terug by 1976,” sê adv. Alberts.