• Post category:All / Government

Die VF Plus gaan die ANC-regering versoek om weg te doen met regstellende aksie (RA) in die openbare sektor aangesien rasse-teikens reeds bereik is en dit nou diskrimineer teen minderhede soos wit en bruin, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor arbeid.

Die VF Plus het verlede maand met ʼn geskrewe parlementêre vraag oor die stand van RA die jongste syfers bekom wat bewys dat RA-teikens bereid is en dat wit en bruin al onderverteenwoordig is.

In die lig hiervan gaan adv. Alberts nou gesprek voer met die minister van arbeid, Mildred Oliphant, die minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davies, asook die voorsitter van parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, Joanmariae Fubbs.

Hy sal hulle daarop wys dat die voortsetting van RA ongrondwetlik sal wees en dat dit reeds ernstige inbreek maak op die regte van minderhede in Suid-Afrika.

Mediaberigte het die naweek verskyn oor die onderwerp waarin verouderde syfers gebruik is. Die VF Plus se oorspronklike verklaring (van adv. Alberts) gedateer 21 Oktober 2014 word daarom weer hierby aangeheg, asook ʼn verklaring van dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus (gedateer 11 November 2014) oor die aangeleentheid.