• Post category:All / Government

Die besprekingspunte op ʼn internasionale konferensie wat die staatsdienskommissie tans in Pretoria aanbied, dui daarop dat die regering nie in voeling is met die ware probleme wat die staatsdiens lamlê nie, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Die tema van die konferensie is: ‘Die bou van ʼn bekwame, loopbaangerigte en professionele staatsdiens om by te dra tot ʼn ontwikkelende Suid-Afrika’. Brasilië, Maleisië, Sjina en Zimbabwe woon dit by.

Dr. Mulder sê dit is onbegryplik dat Suid-Afrika antwoorde op sy probleme by ʼn land soos Zimbabwe soek terwyl dit oorbekend is dat ʼn oorgroot staatsdiens, buitensporige staatslone en die uitwerking van transformasie die ware probleme is wat reggestel moet word.

“Die regering het in hierdie maand in antwoord op ʼn geskrewe parlementêre vraag van die VF Plus erken dat alle regstellende aksie (RA)-teikens nou bereik is en dat die staatsdiens tewens oorgetransformeer is wat Suid-Afrika se rassedemografie aanbetref.

“Dit beteken dat swartes se teiken van 80%, of 8 uit elke tien staatsdienswerkers, reeds bereik is. Wittes, wat 9,2% van die land se bevolking uitmaak, en bruines op 8,9%, is reeds onverteenwoordig. By binnelandse sake is die swart verteenwoordiging sowat 92%.

“Hierdie is ʼn baie belangrike erkenning en die proses van transformasie sal nou sonder meer stopgesit moet word. Indien daarmee volhard word, sal minderhede soos wit en bruin binnekort totaal uit die staatsdiens gedruk word,” sê dr. Mulder.

Volgens dr. Mulder kon die staatsdienskommissie een van sy eie onlangse bevindings op die konferensie se agenda geplaas het, naamlik dat kaderontplooiing en onbevoegdheid onder die naam van RA en transformasie van die hoofoorsake vir swak dienslewering is.

“Die kommissie het vroeër vandeesmaand luidens ʼn berig in Beeld (7 November) erken dat baie departemente gebuk gaan onder wanadministrasie, ʼn vaardigheidstekort en korrupsie en dat hulle op die rand van ineenstorting is.

“Die Ouditeur-Generaal (OG) het hom ook al hieroor uitgespreek en gesê dat die aanstelling van onkundige mense dienslewering drasties inkort.

“Dit gaan nie net oor wit of swart nie, maar oor meriete en die aanstelling van kundige mense in die belang van almal in Suid-Afrika,” sê dr. Mulder.