Die VF Plus het met gister se tussenverkiesing in Potgietersrus ʼn kragvertoning gelewer en sy steun het met 125% toegeneem sedert die plaaslike verkiesing in 2011, sê dr. Pieter Mulder, leier van die VF Plus.

Die VF Plus is ook die enigste party wat gegroei het. Die ander partye het beduidend swakker gevaar. Die DA se steun het met sowat 48% geval vanaf 1 244 in 2011 tot die huidige 597, terwyl die ANC se steun sedert 2011 afgeneem het vanaf 599 tot 338.

Altesame 439 mense het hul stemme aan die VF Plus toegesê. Dit is benewens die feit dat die party minder as twee maande gehad het om sy veldtog te voer nadat sy kandidaat, me. Marcelle Maritz, onlangs van die DA oorgekom het VF Plus toe.

Dr. Mulder sê die ANC se powere vertoning is insiggewend en die uitslag sal daartoe bydra om die opvatting die nek in te slaan dat steun aan die VF Plus in die ANC se hand speel.

“Wat Potgietersrus aanbetref, kan die afleiding eerder gemaak word dat mense hul rug op die ANC draai en hul stem aan ander partye gee omdat hulle moeg is vir ʼn gebrek aan dienslewering en leë beloftes.

“Dit wys ook dat die VF Plus toenemend gesien word as die party wat waarlik omgee vir die belange van minderhede in Suid-Afrika. Dit is ook die boodskap wat ons gekry het toe die hele bestuurspan van die DA se tak op Wolseley in die Wes-Kaap onlangs by die VF Plus aangesluit het,” sê dr. Mulder.