Die VF Plus het homself vandag as belangeparty tot die eksplorasie-aansoeke in die Vrystaat geregistreer.

Lede van die publiek het die VF Plus genader vir hulp rakende hierdie eksplorasie-aansoeke. Die VF Plus is gekant teen die beplande eksplorasie-aansoeke vir die ontginning van gas, olie en kondensaatbronne wat die Vrystaat as kosmandjie van Suid-Afrika in wese kan verander.

Volgens menige chemiese ingenieurs en kenners kan die metodes van eksplorasie die ondergrondse watertafel laat daal en water vergiftig wat dit onveilig vir mense en diere sal maak.

Groot dele van die Vrystaat is ten volle afhanklik van fonteine en boorgate. Die fonteine wat in die Meul- en die Wilger-riviere inloop kan dus die water vergiftig.

Die VF Plus het homself om hierdie rede as belangeparty geregistreer om te verseker dat die Vrystaat en sy inwoners beskerm word.