Die VF Plus verwelkom nog twee DA-raadslede wat hul as kandidate vir die VF Plus in die komende munisipale verkiesing beskikbaar stel.

Jeanie Hattingh, DA-raadslid van die Moqhaka-munisipaliteit (Kroonstad) en Theresa de Villiers, DA-raadslid van die Matjhabeng-munisipaliteit (Welkom) het besluit om hul nie weer vir die DA as raadslede verkiesbaar te stel nie. (Foto’s aangeheg)

Jeanie Hattingh
Jeanie Hattingh

Volgens Jeanie Hattingh het sy uit die DA bedank omdat sy haar nie met die huidige beleidsrigting kon versoen wat die DA ingeslaan het met sy steun vir grondhervorming, regstellende aksie, swart ekonomiese bemagtiging en kwotastelsels nie.

Theresa de Villiers
Theresa de Villiers
Beide raadslede voel dat hul hul gemeenskappe beter as VF Plus-raadslede in die komende termyn sal kan dien.

Jeanie Hattingh is reeds vir 10 jaar ‘n dienende raadslid en is welbekend in Kroonstad as iemand wat daadwerklik ‘n verskil in die gemeenskap maak en by baie liefdadigheidsprojekte betrokke is.

Theresa de Villiers is sedert 2011 ‘n wyksraadslid en het gedurende die afgelope termyn baie hard gewerk om die gemeenskap te dien.

Die VF Plus verwelkom graag hierdie twee staatmaker-raadslede en is bly dat hul in die eerste plek die belange van hul gemeenskappe op die hart dra.

Hierdie twee raadslede is deel van ‘n groterwordende tendens van DA-lede en -raadslede wat die VF Plus as ‘n groeiende alternatief identifiseer.

Die proporsionele kiesstelsel bied die geleentheid vir persone soos Hattingh en De Villiers om by ‘n party aan te sluit wat hul waardes en belange verteenwoordig. Die tyd van een groot opposisieparty is verby en hoe meer volwasse die Suid-Afrikaanse demokrasie word, hoe groter rol sal ander partye speel wat hul kiesers se waardes in rade kan verteenwoordig en uiteindelik saam ‘n koalisieregering kan vorm.