Die VF Plus het vanoggend ʼn strafregtelike klag by die Brooklyn-polisiekantoor in Pretoria ingedien teen die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) se leier Julius Malema, die EFF se woordvoerder Mbuyiseni Ndlozi en sy ondervoorsitter in Tshwane, Moafrika Mabongwana.

Adv Anton Alberts, VF Plus-parlementslid en provinsiale leier in Gauteng, het die klag ingedien.

Volgens adv. Alberts het die betrokke EFF-lede mense opgesweep om “koloniale standbeelde wat aan apartheid herinner” te ontsier of af te breek, en volgens adv. Alberts het dit direk gelei tot die opsetlike beskadiging van Paul Kruger se standbeeld op Kerkplein. Die EFF het later verantwoordelikheid vir die voorval aanvaar.

Verskeie ander monumente is ook oor die naweek beskadig en die VF Plus gaan ook hieroor klagtes indien in die gebiede waar dit plaasgevind het.

Adv. Alberts sê die klagte is gegrond op die verbreking van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne (saaknommer: CAS 138/04/2015).

“Dit is belangrik dat die wetgewende raamwerk wat kulturele goedere en erfenis beskerm, toegepas word om misdadige gedrag soos wat die EFF uitgestal het, ferm vas te vat. Die EFF moet aanvaar dat hy binne ʼn grondwetlike demokrasie funksioneer en nie bo die wet verhewe is nie.

“Paul Kruger was die eerste republikeinse anti-kolonialis wat teen Britse kolonialisme en imperialisme in Afrika geveg het. Hy het ook ‘n positiewe rol gespeel in die geskiedenis van die Royal Bafokeng wat vandag erken word as die rykste stam in Afrika.

“Dit is ‘n historiese feit dat Kruger die een was wat Lobengula, die Matabele hoof, gewaarsku het teen Rhodes se planne vir Lobengula se grond, vandag bekend as Zimbabwe, deur vir hom ʼn boodskap te stuur wat gelui het: ‘Moenie jou land vir hulle gee nie, hou dit vir jou kinders’.

“Geskiedenis kan nie verander word deur feite te verdraai om ‘n
bepaalde politieke agenda te pas nie. Die EFF moet die gevolge van sy
roekelose minagting vir die wet dra,” se adv. Alberts.