Die prys van aandele in die Guptas se maatskappy Oakbay word volgens alle aanduidings kunsmatig hoog gehou, en die staat moet sy aandele daarin onmiddellik verkoop voordat die prys tuimel en groot verliese gely word, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor handel en nywerheid.

Volgens adv. Alberts hou die staat tans deur die Industriële Ontwikkelingskorporasie (IOK) aandele ter waarde van R256 miljoen in Oakbay.

Oakbay was onlangs in die nuus toe ABSA, FNB en die ouditeursfirma KPMG hul rug op die maatskappy gedraai het uit moontlike vrees vir politieke kontaminasie en/of korrupsie.

Luidens ʼn berig in vandag se Bussiness Day is Oakbay tans totaal oorgewaardeer en word sy aandeleprys in die interim kunsmatig stewig gehou tot voordeel van die Guptas.

Adv. Alberts sê hy het vandag ʼn brief gestuur aan die minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davies, waarin die minister versoek word om die aandele sonder verwyl te verkoop om skade vir die belastingbetaler te verhinder voordat die aandeelprys begin daal.