Die VF Plus is bewus van hardnekkige gerugte dat die hele Zuma/Gupta-debakel rondom energievoorsiening wentel, en landsburgers kan self help om ʼn herhaling daarvan te voorkom, sê adv. Anton Alberts (parlementêre woordvoerder oor energie) en mnr. Danie Coetzee (Noord-Kaapse woordvoerder oor energie).

Hulle sê omdat die Guptas se steenkool- en uraanbelange in onderskeidelik Mpumalanga en Noordwes nie gewone markkragte sou oorleef nie, is die tesourie gewetenloos nagejaag om hul doelwitte te bereik.

“Die VF Plus is dankbaar dat Suid-Afrika se instellings uiteindelik sterk genoeg was om dit te voorkom, maar landsburgers kan self ook ʼn groot rol speel om soortgelyke vergrype te keer.

“Die VF Plus is van mening dat kraglewering uit sonlig nou reeds so koste-effektief is dat gewone verbruikers hul sonkragstelsels binne vyf jaar uit besparings kan finansier voor dit nog twintig jaar en meer se gratis krag lewer.

“Luidens ʼn antwoord van die minister van energie, Tin Joemat-Pettersson op ʼn parlementêre vraag van adv. Alberts, word die regulering van Kleinskaalse Ingebedde Kragopwekkers (verbruikers wat krag opwek en surpluskrag aan die nasionale netwerk lewer) nog voorberei. Sy beskou munisipale beperkings as een van die grootste risiko’s in dié verband,” sê adv. Alberts en mnr. Coetzee.

Volgens mnr. Coetzee is die tegniese beperkings oorkombaar en is dié vorm van opwekking die norm in ʼn gevorderde ekonomie soos Duitsland. Hy sê die VF Plus beskik oor die nodige kundigheid om die probleme op te los, maar die politieke wil ontbreek.

Hy sê wanneer landsburgers besef dat sonaanlegte op elke plaasskuur en woonhuis in Suid-Afrika nie alleen kragtekorte kan uitskakel nie, maar groot geldelike voordele vir hulself inhou, kan die konsep geweldig toeneem en uitbrei en die land in die proses teen ‘kapers’ beskerm.

Adv. Alberts en mnr. Coetzee het verder daarop gewys dat die impak van afgelope jaar se rampdroogte aansienlik verlig kon word indien grondeienaars die oorvloedige sonenergie teen betaling aan die nasionale netwerk kon lewer. Om hierdie redes is sonkrag ʼn sleutelelement van die VF Plus se munisipale verkiesingsveldtog, sê hulle.