• Post category:All / Government

Uiterste swak leierskap by die ANC lei daartoe dat die EFF wegkom met roekelose stellings oor die volkslied en simbole en beelde uit ons geskiedenis.

Die EFF het by Erfenisdag gevra dat die Stem uit die volkslied verwyder word en Afrikaanse helde en beelde soos die van Paul Kruger permanent verwyder moet word.

Die EFF is hiermee berekend daarop uit om die land in botsende wit en swart pole te verdeel sonder om enigsins oor die gevolge daarvan om te gee.

Vorige ANC-leiers soos pres. Mandela en Mbeki sou lankal op die onverantwoordelikheid en gevolge van hierdie EFF-stellings gewys het.

Pres. Zuma is so besorg oor sy nalatenskap en die ander ANC-leiers is so besorg oor hulle gewildheid in die ANC-opvolgstryd dat niemand die moed het om die EFF in die bek te ruk nie.

Wittes en Afrikaners het ʼn groot rol gespeel om Suid-Afrika die ekonomiese reus in Afrika te maak. Hierdie EFF-stellings, waarop die ANC nie reageer nie, lei daartoe dat wittes en Afrikaners vertroue in Suid-Afrika se toekoms begin verloor en hulle finansieel en andersins geleidelik begin onttrek. Sonder twyfel speel dit ʼn rol in die geleidelike ekonomiese agteruitgang van Suid-Afrika waar Nigerië ons alreeds ekonomies verbygesteek het.