Die SAUK se omstrede besluit om nie meer beeldmateriaal van gewelddadige betogings te vertoon nie, dui daarop dat die ANC die wrange vrugte van sy eie geskiedenis pluk. Nie net die geskiedenis soos dit plaasgevind het nie, maar ook soos dit in skoolboeke geïdealiseer word, sê dr. Wynand Boshoff, Noord-Kaapse leier en –onderwyswoordvoerder van die VF Plus.

Die jeugopstande van 1976 was volgens Boshoff ʼn vernietigingstog waarvan Suid-Afrikaanse onderwys tot vandag toe nie herstel het nie. Nie net infrastruktuur is vernietig nie, maar ook ʼn leerkultuur.

Die slagspreuk Liberation before Education het ʼn hele geslag geleer dat dit deugsaam is om skoolgesag te ondermyn, om daarop aan te dring om te slaag ongeag prestasie en dat dit ʼn heldedaad is om van die skool af weg te bly.

Boshoff sê dit het later ʼn bevrydingsdoelwit geword om die land onregeerbaar te maak. Geleenthede tot selfverbetering moes vernietig word as dit van die “gehate staat” afkomstig was. Ekonomiese vernietiging deur stakings, boikotte en sanksies is as eerbare bevrydingsdade beskou.

“Het daardie leiers ooit gedink hoe jy ʼn land regeer waarvan die burgers geleer is dat dit edel is om te weier om vir dienste te betaal?

“Die ergste is dat nog ʼn geslag kinders na 1994 op skool geleer word van hierdie “heroïese” stryd. As ʼn korrupte en onbekwame regering in die lewering van dienste misluk is die jeug nie opgevoed om skouer aan die wiel te sit en self iets op te bou nie. Hulle het geleer dat brand en breek jou die morele hoë grond gee.

“Die SABC mag korrek wees in sy waarneming dat publisiteit geweld aanblaas. Die regering van mnr. P.W. Botha was dalk in die jare rondom 1980 korrek met dieselfde waarneming. In 2016 gaan dit egter net so nutteloos wees om die gevaarligte toe te plak as wat dit in 1986 was.

“Die VF Plus doen ʼn beroep op gemeenskappe om na hul eie belang en geriewe om te sien. Eers wanneer gemeenskappe hulle lot uit die hande van die regering met sy toksiese verlede neem en in hul eie hande plaas, sal Suid-Afrika ʼn beter plek word,” sê Boshoff.