Erkennings van die ANC dat internasionale graderingsagentskappe soos Standard & Poor’s die party gewaarsku het oor sy interne woelinge en sy gewaande neiging tot populisme, is ʼn duidelike aanduiding dat die wêreld kennis neem van die effek wat die ANC se probleme op die land het, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Adv. Alberts sê die ANC se interne woelinge, en moontlike populistiese kandidate en beleid wat daaruit kan vloei om met die EFF mee te ding soos reeds gebeur met verskerpte regstellende aksie, SEB, en grondhervorming, gaan die land nog groter skade aanrig.

“Dit is tyd dat die ANC vervang word ten einde hierdie roekelose bestuur van die land tot ‘n einde te bring.

“Daardie moontlikhede begin nou oopgaan op 3 Augustus vanjaar met die plaaslike verkiesing waar die VF Plus moontlik in ‘n hele aantal stadsrade saam met verantwoordelike opposisiepartye in koalisie die ANC kan uitskop.

“Dit kan net gebeur as die wegblystem tot die minimum beperk word. Elke regdenkende mens se stem is nou van die allergrootste belang in die stryd teen die ANC,” sê adv. Alberts.