“Die verslag van die SA Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) oor geweldsmisdaad en kriminaliteit in die Suid-Afrikaanse Polisiediens bevestig dat die publiek nie vertroue in die Polisie kan hê nie. Dit is
ironies dat die Polisie as sy hoofdoelwit stel dat die publiek beskerm moet word en vertroue in die Polisie moet hê. Ook art. 205(3) van die Grondwet bepaal dat die hoofdoel van die Polisie die beskerming en veiligheid van die publiek is. Die Polisie faal dus in hulle grondwetlike plig.

“Die kernprobleem van die Polisie is dat daar nie behoorlik dissipline toegepas word nie. Polisielede wat vuurwapens verloor, onregmatige arrestasies uitvoer, korrupsie pleeg ens. word liggies op die vingers getik en sommiges kom selfs skotvry daarvan af. Kriminele oortredings word baie keer net verdoesel. As twee vorige Polisiekommissarisse afgedank is weens beweerde korrupsie en een selfs vyftien jaar tronkstraf moes uitdien, is die bevindinge van die SAIRV nie verrassend nie.

“Indien die Polisie die verslag bevraagteken moet ’n onafhanklike forensiese ondersoek gedoen word oor misdaad binne die Polisie. Die Vryheidsfront Plus beveel in elk geval sodanige forensiese ondersoek aan, sodat die publiek kan weet wat die kriminele toestand binne die SAPD is. Dit sal ook die ywerige, hardwerkende, eerlike en opregte polisielede help om ontslae te raak van die vrot appels wat hulle ’n slegte naam gee,” sê dr. Pieter Groenewald (LP), hoofwoordvoerder van Polisie vir die Vryheidsfront Plus.