• Post category:All / Government

Die Vryheidsfront Plus is gekant teen die voorgenome verandering van Harrismith se naam na Intabazwe.

Op 9 Desember 2014 het die Provinsiale Geografiese Name Raad `n openbare verhoor in 42nd Hill gehou om oor die naamsverandering te konsulteer.

Die VF Plus wat self die vergadering bygewoon het, is van mening dat die regering eerder sy aandag aan die sukkelende ekonomie, vervalle infrastruktuur en die kragkrisis moet gee as om fondse aan
naamsveranderinge te bestee. Die naam, Harrismith gee geen aanstoot nie en is van historiese waarde.

Buiten die feit dat die komitee nie wetlike vereistes nagekom het ten opsigte van genoegsame kennisgewings en advertensies van die verhoor nie, was die paneel bevooroordeeld, asof hulle reeds `n besluit oor die verandering geneem het.

Na vrae oor die wetlikheid van die verhoor gevra is, het van die personeellede probeer skerm dat dit slegs ‘n konsultatiewe samespreking in aanloop tot die openbare verhore is, alhoewel die een advertensie wat op 4 Desember 2014 in die Volksblad verskyn het, duidelik stipuleer dat dit `n verhoor is.

Die komitee kon nie aandui wat die beraamde koste verbonde aan die voorgenome verandering sal inhou nie.

Jan van Niekerk, Provinsiale Leier van die VF Plus in die Vrystaat, sê dat die party alles in sy vermoë sal doen om hierdie onsinnige en onnodige naamsverandering teen te staan.