Die regering se aankondiging dat hy byna 1 500 maatskappye hof toe gaan sleep omdat hulle nagelaat het om aan die wetsvereistes oor diensbillikheid te voldoen, is niks anders nie as rassistiese sosiale ingenieurswese,” sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor ekonomie.

Die kommissie vir diensbillikheid het vandag aangekondig dat die departement van arbeid teen die maatskappye gaan optree aangesien hulle nie verslag gedoen het oor hul teikens rakende ‘diensbillikheid’ nie.

Boetes van tot R1.5 miljoen of 2% van die betrokke maatskappy se jaarlikse omset kan opgelê word.

Adv. Alberts sê die realiteit is dat daar nie genoeg geskoolde swartes is wat geredelik beskikbaar is om in al die maatskappye opgeneem te word nie, en al hoe meer onbekwame mense moet nou aangestel word net omdat hulle swart is.

“Dit is niks anders nie as rassisme. Die land se ekonomie kan nie bekostig dat private maatskappye, wat ʼn uiters belangrike steunpilaar van die land se ekonomie is, op hierdie wyse ondermyn word nie.

“Bowendien is die staatsdiens agter om die wanbalanse teenoor wit en bruin werkers reg te stel. Daar is tans ʼn onderverteenwoordiging van wit en bruin op alle vlakke in die staatsdiens. Die regering moet eers voor sy eie deur vee.

“Selfs in die privaat sektor is te min wit en bruin werkers in junior poste. Waarom word dit nie ook aangespreek nie? Die ANC is duidelik besig om net ag te slaan op die swart wanbalanse in die arbeidsmark, wat suiwer rassisme is.

“Die opvatting oor wit oorverteenwoordiging op hoër arbeidsvlakke skets nie die ware prentjie nie aangesien swartes oorverteenwoordig is op alle ander vlakke, veral in die staatsdiens.

“Die VF Plus sal ‘n skrywe aan minister rig om uit te vind waarom net sekere belange aangespreek word. Suid-Afrika het meer as net swart mense,” sê adv. Alberts.