Alles dui daarop dat die gewelddadige poskantoorstaking totaal buite beheer kan raak en die VF Plus doen ʼn beroep op die regering om sterk in te gryp voordat dit landwyd dieselfde vlakke van intensiteit en geweld bereik as in Gauteng.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor kommunikasie, sê inligting waaroor die VF Plus beskik, dui daarop dat die situasie uiters plofbaar is, en dat die betrokke vakbonde, onder wie die Communication Workers Union (CWU), hul lede in skrywes aanhits om ‘gereed te maak vir oorlog’.

“Intussen word voorvalle van geweld reeds oor die hele land aangemeld. Voertuie word uitgebrand, poskantore en poskantoor-eiendom word beskadig en posstukke word rondgestrooi en vernietig.

“Mense wat nie aan die staking deelneem nie se huise word toenemend aan die brand gesteek, vroue word by taxi-staanplekke gemolesteer en dreigemente en intimidasie vier hoogty. Selfs hoofkantoor-personeel word deur stakers verhinder om die gebou binne te gaan,” sê adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts dring CWU aan op ʼn buitensporige verhoging van 15% terwyl die poskantoor na verneem word ʼn syfer van nader aan 5% op die tafel het.

“Hierdie eis is totaal absurd gegewe die feit dat die poskantoor op die rand van bankrotskap is en dit is duidelik dat die staat onverwyld sal moet ingryp om die krisis te beredder voordat die organisasie se wiele heeltemal tot stilstand gedwing word.

“Die poskantoor bly ʼn essensiële kommunikasiestelsel waarsonder Suid-Afrika weerloos gelaat sal word en nie behoorlik sal kan funksioneer nie. Dit kan nie bekostig word nie,” sê adv. Alberts.