Rassisme is verkeerd, dit kan die land uitmekaar laat skeur en moet deur almal veroordeel word. Die ANC tree egter op of rassisme net van een groep kom, en dit sal niks daartoe bydra om die probleem op te los nie, sê dr. Corné Mulder, hoofsweep van die VF Plus.

Dr. Mulder het vandag met die parlementêre debat oor rassisme gesê die minister van kuns en kultuur (Nathi Mthethwa) doen die land ʼn onguns aan as hy op ʼn eensydige wyse die probleem van rassisme benader.

“Die minister lees net die eerste twee sinne van die aanhef tot Suid-Afrika se Grondwet wat lui dat die ongeregtighede van die verlede erken moet word. Dan praat hy oor die ANC se struggle-helde van die verlede.

“Waarom konsentreer hy net op dit wat vir die ANC belangrik is? Net in die volgende sin van die aanhef word gesê almal wat bygedra het om op te bou en te ontwikkel moet gerespekteer word, en dan dat Suid-Afrika behoort aan almal wat in hom woon, ‘verenig in ons verskeidenheid’.

“Presies dit is die probleem wat ons in die land het oor die realiteit van rassisme. Die minister is selektief en fokus net op wat belangrik is vir die ANC.

“Rassisme in alle vorms moet verwerp word, maar daar bestaan ʼn opvatting dat net sekere mense in staat is tot rassisme. Geen ras, groep, volk of nasie, wit of swart, is so edel en wonderlik dat hulle nie in staat is tot rassisme nie.

“Daar is slegte mense in alle gemeenskappe, en daar is rassiste in alle gemeenskappe. Suid-Afrika kon al ver gevorder het om rassisme uit te roei, maar die oë word gesluit vir dié realiteit, en dit is verkeerd.

“Ons strompel van een groot sportbyeenkoms na ʼn volgende in die vals waan van nasiebou, maar skielik is die euforie weg en van dié nasiebou bly niks oor nie. Erken die diversiteit van Suid-Afrika se mense en gebruik dit as een van die boustene om nasiebou te bevorder.

“Almal in die land moet rassisme veroordeel, maar die ANC se manier om dit te doen is verkeerd, en gaan ons nêrens bring nie,” sê dr. Mulder.