Die Vryheidsfront Plus veroordeel die mees onlangse plaasaanval in die Vrystaat op mnr. Johannes en mev. Rita Kritzinger ten sterkste. Die Kritzinger-egpaar, wat tussen Verkykerskop en Vrede boer, is Sondagmiddag kritiek gewond deur twee gewetenlose aanvallers en vir die dood agtergelaat.

Bykans ʼn honderd boere het Sondagmiddag verbete gesoek na die aanvallers. Die feit dat boere so vinnig en in groot getalle reageer, is ʼn bewys dat boere nou keelvol is om deur misdadigers mishandel, verkrag en vermoor te word.

Die VF Plus sal aanhou om hierdie kritieke situasie onder die wêreld se aandag te bring en die regering dwing om boere te beveilig. Die VF Plus het verlede week tydens UNPO se algemene kongres ʼn resolusie oor plaasmoorde ingedien wat deur UNPO aanvaar is.

Jan van Niekerk, provinsiale leier van die VF Plus in die Vrystaat, wat self in die area boer het sy dank teenoor die gemeenskap en plaaslike polisie vir hul vinnige optrede uitgespreek.

Die honde-eenheid het egter eers drie ure na die aanval op die toneel arriveer. Dit getuig van die feit dat plaasmoorde- en aanvalle as prioriteitsmisdaad verklaar moet word sodat eenhede vinniger kan reageer. Vinniger optrede sal verseker dat hierdie booswigte vinniger aangekeer en sodoende afgeskrik word.

Van Niekerk het ʼn ernstige beroep op mede-boere gedoen om verantwoordelik op te tree en hulself te beveilig en by gemeenskapsbeveiligingsaksies in te skakel, aangesien dit duidelik is dat daar ʼn aanslag op boere is.

Die VF Plus was kort na die aanval in verbinding met die LUR vir polisie, mnr. Komphela en die LUR vir landbou, mnr. Zwane. Hierdie beroep op die uitvoerende gesag het gelei tot die arrestasie van een van die verdagtes.

Die VF Plus bid die Kritzinger-egpaar ʼn spoedige herstel toe.

  • Mnr. Johannes Kritzinger is in ʼn kritieke toestand in die Unie-hospitaal, Newcastle.
  • Een van die verdagtes betrokke by die aanval is Sondagaand gearresteer; hy was in besit van die egpaar se selfone en was voorheen werksaam op die plaas.