Gegewe die kreeftegang van Suid-Afrikaanse rugby met onlangse rekord-laagtepunte soos nederlae teen Japan en ʼn 14-man Ierse span, moet die regering kennis neem van die publiek se groeiende ontevredenheid met politieke inmenging in sport, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor sport.

Adv. Alberts sê die oproep van ʼn oud-Springbok, Ockie Oosthuizen dat toetswedstryde geboikot moet word, is ʼn weerspieëling van die publiek se gevoel teenoor die destruktiewe inmenging van die ANC-regering in sport.

Volgens adv. Alberts is dit onvermydelik dat dié politieke inmenging ʼn groot invloed op die ingesteldheid en selfvertroue van veral gekleurde spelers sal hê.

“Hierdie optrede van die regering om sport te alle koste te transformeer sal ironies genoeg die teenoorgestelde uitwerking hê aangesien spelers van kleur deeglik bewus sal wees van die kwota-vraagteken wat oor elkeen se kop hang, veral na ʼn swak vertoning soos die afgelope naweek teen Ierland.

“Dit is baie onregverdig teenoor die spelers van kleur wat werklik op meriete in die span is en goeie spel vir hul land lewer.

“Die ANC en sy minister van sport, Fikile Mbalula, moet kennis neem van die onlangse druk wat finansiële graderingsagentskappe op die regering geplaas het oor die ekonomie. Die wêreld raak toenemend bewus van die beskimmelde reënboogdroom en die vergrype van die ANC-regering.

“Hierdie druk via die buiteland op die regering moet deurlopend volgehou word. Die VF Plus doen in hierdie verband alles moontlik, en hou die Internasionale Rugbyraad en regerings met wie Suid-Afrika sportbande het, gereeld op hoogte van verwikkelinge.

“Die VF Plus het onder meer in Augustus verlede jaar ʼn skrywe aan die Britse hoë kommissaris in Pretoria oorhandig waarin gevra word dat die kommissaris, die Britse rugby-unies en die Britse regering kennis neem van die ANC se inmenging in sport in Suid-Afrika.

“Die druk op van die voorste toetslande sal onvermydelik toeneem om Suid-Afrika te boikot indien die persepsie groei dat hulle teen verswakte kwotaspanne meeding. Die skade sal dan egter so groot wees dat dit jare kan neem om te herstel.

“In die onlangse begrotingsposdebat oor sport in die parlement het ek aan minister Mbalula gesê hy sal sport vernietig as hy op die trant aangaan. Ek hoop die situasie verander vinnig voordat hierdie voorspelling waar word,” sê adv. Alberts.