Dit is so dat Eskom tans weer funksioneer, maar dit kom teen ʼn prys waarvoor die belastingbetaler moet betaal, sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor openbare ondernemings

Dr. Groenewald het vandag met die begrotingsposdebat van die departement van openbare ondernemings gesê die minister (Lynne Brown) spog nou dat daar nie meer beurtkrag by Eskom is nie.

Hy sê sy probeer sodoende die indruk skep dat die regering nie foute maak nie en Eskom goed bestuur word.

“Die vraag moet egter gevra word waarom daar in die eerste plek beurtkrag was. Dit was die ANC-regering se onbeholpenheid wat aanvanklik daartoe gelei het dat beurtkrag ingestel moes word wat Suid-Afrika se ekonomie miljarde rande gekos het.

“In 1998 het Eskom ʼn volledige ontwikkelingsplan op die toenmalige adjunkpresident Thabo Mbeki se tafel gesit en gesê daar moet opgetree word om te verhinder dat beurtkrag reeds in 2007 ʼn werklikheid word. Hy het dit van die tafel gevee.

“Daar moet gevra word of die regering onwillig is, of bloot nie in staat is om vooruit te beplan nie. Waarom wag die regering elke keer eers tot daar ʼn krisis ontstaan voor hy optree? Die feit dat Eskom nou funksioneer kom teen ʼn prys, en dit is die verbruiker wat daarvoor moet betaal,” sê dr. Groenewald.

Wat Denel se vorming van Denel Asia aanbetref sê dr. Groenewald, Denel Asia, het gaan deelneem aan ʼn Verdedigings-Expo in Indië terwyl die minister van finansies ontken hy die vorming goedgekeur het. Die minister self het dit nie goedgekeur nie en ook nie die National Conventional Arms Control Committee (NCACC) nie.

Hy sê die feit dat Denel Asia die wêreld nooi om met hulle sake te doen, kom neer op internasionale bedrog aangesien dit sonder die nodige goedkeuring gedoen is en die minister moet daaroor verantwoording doen.

Oor tegnologie sê dr. Groenewald Suid-Afrika beskik oor die nodige kundigheid en tegniese vermoëns om produkte van internasionale gehalte te lewer, en die vraag moet gevra word wat Denel Asia bied wat Suid-Afrika met sy eie kundigheid nie kan lewer nie.

“Die regering wil graag werkgeleenthede skep en ons tegnologiese kennis in die land hou. Waarom moet Suid-Afrika dan na Asië of Denel Asia gaan om daardie tegnologie te gaan ontwikkel? Die land het die vermoë en dit moet in belang van Suid-Afrika gebruik word,” sê dr. Groenewald.