Suid-Afrika gaan ʼn tydperk binne waar die Grondwet steeds meer getoets gaan word en onder druk gaan kom. Opposisiepartye, die media en burgerlike organisasies het daarom ʼn steeds groter taak om as waghond op te tree ten einde die misbruik van mag en die ignorering van die Grondwet aan die kaak te stel.

ʼn Regerende party soos die ANC is altyd baie pro-grondwet en pro-demokrasie nadat hulle ʼn verkiesing gewen het. Dit was ook die geval na 27 April 1994. Soos die moontlikheid begin verskyn dat die ANC die mag kan verloor, kom die werklike toets nader of die ANC werklik demokraties is, aan die Grondwet verbind is en bereid sal wees om die mag af te staan.

ʼn Regering onder druk ignoreer al makliker die Grondwet. So het die Grondwethof in die onlangse geval bevind dat president Zuma en die parlement die grondwetlike bepalings oor die Openbare Beskermer se Nkandla-aanbevelings geïgnoreer het.

Meeste mense in Suid-Afrika smag na versoening, samewerking en vrede. Ware versoening is ʼn wen-wen situasie waar daar ruimte vir elke taal, kultuurgroep, ras en geslag is om hom- of haarself te wees in Suid-Afrika. Na 22 jaar begin 27 April en ander vakansiedae in regeringstoesprake steeds meer die betekenis kry van die oorwinning van een groep oor die ander. Dit is nie wat in 1994 gebeur het nie en is ʼn resep vir konflik en nie vir versoening nie.

Op vakansiedae het ons meer toekomsgerigte boodskappe nodig waarin waardering uitgespreek word vir die bydraes wat beide wit en swart in die verlede gemaak het om Suid-Afrika ʼn ekonomiese reus in Afrika te maak. Dit sal die huidige negatiewe polarisering teenwerk. Dit sal ook uitvoering gee aan die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat vra vir respek vir “diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel”.

Suid-Afrika is ‘n land met ongelooflike potensiaal en talent. As dit reg aangewend word, gaan ons ruimte skep vir al die land se inwoners en die verskillende gemeenskappe om voorspoedig en in vrede en harmonie saam te leef. As politieke populisme, selfsug, selfverryking en korrupsie egter die oorhand kry, gaan ons die pad van baie ander mislukte state loop.