Die ANC-regering praat baie oor klimaatsverandering en besoedeling, maar hy is self die grootste sondaar wat betref die besoedeling van die land se riviere deur swak en onbevoegde munisipale bestuurders wat toelaat dat rou riool in riviere gestort word,” sê dr. Pieter Groenewald, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor omgewingsake.

Dr. Groenewald het vandag met die parlementêre debat oor klimaatsverandering gesê die ANC-regering praat baie oor die saak, en woon selfs internasionale kongresse daaroor by wat goed en wel is. Praat alleen help egter niks as daar nie iets daadwerkliks aan die probleem gedoen word nie.

“Ek is bewus daarvan dat selfs wetenskaplikes verskil oor aardverhitting en klimaatsverandering. Ongeag hierdie meningsverskille, weet ons dat klimaatsverandering ʼn werklikheid is. Ons beleef dit tans in Suid-Afrika met ʼn hewige droogte.

“In die wêreld word ʼn verskeidenheid probleme gesien. Daar is ongewone sneeustorms, oorstromings en gebiede wat dorre streke word. Dit is ʼn werklikheid. Daarom het die tyd aangebreek dat die ANC-regering besef dit help nie om net oor die probleem te praat nie.

“Die grootste sondaar in Suid-Afrika wat betref die besoedeling van die land se aardse bronne is juis die regering waar swak munisipale bestuurders eenvoudig toelaat dat onverwerkte riool ons riviere besoedel.

“Al die wat die ANC doen, is om daaroor te praat. Die minister van omgewingsake (Edna Molewa), kan aan ons sê of sy daaroor praat met haar kollegas, die minister van water en sanitasie (Nomvula Mokonyane), of die minister van samewerkende regering (Pravin Gordhan).

“Ek het persoonlik die minister van water en sanitasie gevra dat ʼn oudit by munisipaliteite gedoen moet word oor die storting van riool. Ek wag nou nog op ʼn antwoord.

“Die ANC moet nou ophou met mooi praatjies hieroor. Doen asseblief iets. Ek stem saam ons het net die planeet aarde wat ons voortbestaan kan verseker. Maar u is aandadig daaraan om dit te vernietig met die swak bestuur van plaaslike regering wat strukture in duie laat stort,” sê dr. Groenewald.