Die Vryheidsfront Plus doen ʼn beroep op alle parlementslede, maar meer spesifiek op die parlementslede van die ANC, om more (Dinsdag 5 April) in die stemming in die parlement om die president van sy amp te onthef, verantwoordelik en elkeen volgens sy of haar gewete te stem.

As die ANC-koukuslede besluit om weer die ernstige feite van die afgelope week te ignoreer, sal die geskiedenis oor ʼn paar jaar van vandag af hulle hard en baie negatief beoordeel. Dit sal ook gesien word dat hulle weer eens die grondwet geïgnoreer het en nie hulle grondwetlike pligte nagekom het nie.

ANC-parlementslede het by diensaanvaarding ʼn eed afgelê dat hulle die Grondwet sal “gehoorsaam en onderhou”. Hulle het ook onderneem “…om my funksies as lid van die Nasionale Vergadering na my beste vermoë uit te voer.”

More is die toets tot watter mate die parlementslede hulle eed en funksies as lid van die parlement ernstig opneem.

Die president word deur die parlement in ʼn geheime stemming (sien Grondwet Bylae 3 artikel 6(a)) verkies. Daarom is dit net billik dat daar weer in die geheim gestem behoort te word as dit gaan om die president volgens artikel 89(1) van sy amp te onthef. So ʼn besluit kan geneem word.

Almal stem saam dat verlede week se grondwethofuitspraak ingrypend en uiters belangrik vir die demokrasie in Suid-Afrika is. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het daarin bevind dat: “The president failed to uphold, defend and respect the Constitution.”

Parlementslede kry more die geleentheid om Suid-Afrika uit hierdie grondwetlike moeras te kry. Mis hulle die geleentheid gaan dit ʼn lang uitgerekte en pynlike proses word waarin die ANC self steeds meer skade sal ly.